Untitled Document

Angie Kleijn

Die Dorslandtrek het gestalte gekry toe ‘n 82-jarige man sy plaas oos van Pretoria in 1874 verkoop het. Hy is op dié hoë ouderdom dwarsdeur die dorstige woestyne op tot in Angola en is op 92-jaar in ‘n Afrikaanse gemeenskap in Angola oorlede. Die tragedie is dat dié gemeenskap ná ongeveer 50 jaar weer alles moes agterlaat en weer van niks af oor moes begin.

Die 85ste herdenking van dié terugtrek van Afrikaners uit Angola word van 23 tot 26 Augustus naby Swartbooisdrif op die oewer van die Kunenerivier in Namibië gehou.


Trekleier Gert Alberts
Foto: SA Genealogie

Die amptelike afskopdatum vir die Dorslandtrekreëlings was op 6 Julie 1874 toe Johannes Marthinus van der Merwe, wat amper 30 jaar tevore ‘n Voortrekker uit die Kaapkolonie was en deelgeneem het aan die slag van Vegkop, sy plaas Rusfontein verkoop het.

Meer boere het hulle plase begin verkoop en vir ongeveer ‘n jaar vir die nuwe trek-ekspedisie voorberei, min wetende watter lyding voorlê. Die groot dors in die Kalahari-woestyn met die verlies aan menselewens en vrektes van diere, was die rede hoekom dié groeptrekke die naam Dorslandtrek gekry het.

Opvolgende trekke het oral langs die pad op grafte, veral kindergraffies, en die geraamtes van vee afgekom. Toe die mense ná jare deur die woestyn is en langs die Okavango verder getrek het, is baie van dié wat die dors oorleef het, dood aan malaria en die vee deur tsetsevliegsteek.

Minder as die helfte van die Dorslandtrekkers wat in die 1870’s uit die ZAR getrek het, het Angola bereik. Dié groeptrekke na Angola het in die 1880’s en 90’s aangehou tot ná die Engelse Oorlog toe die Portugese regering dit in 1907 begin verbied het.


Johannes Marthinus van der Merwe van die plaas Rusfontein oos van Pretoria
Foto: Geni

Oom Hans
Oom Hans en sy gesin was deel van die eerste Dorslandtrek wat die Transvaal op 15 Mei 1875 verlaat het op pad na Humpata, die hooglande in suid-westelike Angola.

Hy was ‘n skatryk boer en kon sy laaste jare rustig op sy plaas deurbring, maar die trekkerbloed het deur sy are gebruis en hy wou ná die Groot Trek altyd verder noord beur.

Die ossewa waarmee hy getrek het, het oor die jare ‘n legende geword. Die lang tentwa is gerieflik ingerig en het plankdeure voor en agter gehad in plaas van seildoeklappe en daar was ruitvensters aan weerskante.

In die tent was daar ‘n stoof waarop die kos sommer so in die ry gekook kon word deur Paadji Rol, wat deur Oom Hans grootgemaak is. Paadji Rol het later in Angola beroemd geword as kok vir besoekende predikante. Oom Hans het ook, ná die slag van Bloedrivier, ‘n Zulu-kind in ‘n verlate kraal gekry en hom grootgemaak. Dié kind het as Slagveld van der Merwe bekend gestaan.


Boerewa in Angola
Foto: SA Genealogie

Hans van der Merwe is op 10 Augustus 1792 op Swellendam in die Kaapkolonie gebore. Hy is op 4 Augustus 1816, toe hy 23 jaar oud was, in George met Helena Dorothea Schoeman getroud.

Helena is op 13 Oktober 1796 op Tulbagh, Brederivier gebore en is op 13 September 1828 met die geboorte van ‘n kind oorlede. Hans en Helena het drie kinders gehad: Petrus Johannes, Stephanus Petrus en Helena Dorothea Aletta.

Hans is weer op 26 Desember 1831 op die ouderdom van 39 jaar met Aletta Geertruij Lindeque, gebore op 27 Augustus 1814, getroud. Hulle kinders was Gerrit Johannes Lindeque, Johannes Marthinus, ‘n ongedoopte dogtertjie wat in 1838 oorlede is, Lukas Johannes, wat later ‘n bekende grootwildjagter geword het, Anna Catharina en Willem Hendrik Jacobus Stephanus Johannes.

Oom Hans het sy tweede vrou ook oorleef. Aletta is op 27 April 1877 oorlede en Oom Hans eers op 9 Junie 1884 in Jamba, Cuando Cubango, Angola. Paadji Rol het in Angola aangebly en is in Januarie 1924 op Humpata oorlede.


Ossewaens in die Dorslandtrek
Bron: Kaapse Argief AG 491

Eerste
Oom Hans en sy gesin was deel van die 14 gesinne met 36 kinders en 2 500 beste wat op 24 Mei 1874 by die Elandsrivier bymekaar gekom het. Hulle is op 12 April 1875 na Bierkraal in die Rustenburg-distrik en het noord begin trek tot by die samevloeiing van die Marico-en Krokodilrivier.

Die eerste groep trekkers was onder leiding van Gert Alberts en het gesinne soos dié van PLA du Plessis, Holtzhausen, Roets, Kruger, Meyer en Paul Stephanus Venter ingesluit.


Boerekamp in Angola
Foto: SA Genealogie

‘n Kleiner trek het op die eerste trek se spoor gevolg, bestaande uit die gesinne van Gerhardus Marthinus Smit en Petrus Chrisparus Jacobs. Hulle het later omgedraai en by die tweede trek aangesluit.

Ongeveer 23 wette en regulasies is opgestel om orde met die trek te handhaaf. Vir moord het jy die doodstraf gekry, vir die eerskending van vroue ‘n boete van R7-50 tot R14 en om te trou het net R2 gekos. Daar is ‘n owerheid aangestel wat bestaan het uit kommandant, landdros en heemraadslede.


Jacobus Frederik Botha, sittend in die middel, en sy familie. Hy was later die trekleier van die gekombineerde trek en is op 7 Januarie 1915 in Jamba, Angola oorlede
Foto: SA Genealogie

Tweede
Die tweede trek het op 29 April 1875 by Zoutpanslaagte aan die Apiesrivier bymekaargekom en het die land in April 1877 verlaat. Daar was aanvanklik sewe gesinne met Jan Greyling as kommandant en Louw du Plessis as veldkornet. Die leiers het egter voortdurend verwissel en later het nog trekkers by hulle aangesluit, tot die groep uit meer as 100 gesinne, bestaande uit 480 mense, 128 waens, 1 958 trekosse, 7 536 beeste, 483 perde, 1 034 skape en bokke, 32 donkies, 213 honde en 486 stuks pluimvee bestaan het.


Lourens M Grobler, gebore op 20 Oktober 1863 in Rustenburg en oorlede op 19 Januarie 1941 op Gobabis. Hy het aan verskeie gevegte saam met die Portugese teen die swart
stamme in Angola deelgeneem
Foto: SA Genealogie

Onder die gesinne was dié van PJ du Preez, Louw du Plessis, JI Hamman, Jan Greyling, SJ Kruger, Gert Meyer, GJ Kruger, Diederik Prinsloo, F Robberts, J Robberts en D Erasmus.

Hulle was meestal lidmate van die Gereformeerde Kerk uit die volgende distrikte: Pretoria (50 gesinne); Rustenburg (37 gesinne); Potchefstroom (sewe gesinne); Waterberg (ses gesinne); Heidelberg (drie gesinne); Marico (twee gesinne) en ‘n aantal onbekend.


Boere-trekkers by Makarakara
Bron: E Reclus, ‘The Earth and its Inhabitants: Africa (South and East Africa)’, 1889

Derde
Die derde groep, bekend as die Botha-Grobler-groep van agt gesinne, het op 24 April 1877 op die plaas Dwarsspruit by Rustenburg byeenkom en het die land kort daarna onder leiding van Jacobus Frederik (Koos) Botha, verlaat. Op dié trek was daar ook Robberts-gesinne en Isak Grobler se mense.

Hulle het die tweede groep se lydingspoor langs die pad teëgekom en hulle op die ou einde ingehaal.
Die drie trekke het by Leeupan aan die Ngami-meer bymekaargekom en GD Prinsloo is as landdros gekies, JF Botha as kommandant en GJL van der Merwe as veldkornet.


Vaal Lou du Plessis, seun van Louwrens M du Plessis, kommandant van die Dorslandtrek van 1877, met sy gesin in Angola in 1924. Op versoek het sy vrou, Martha (gebore Potgieter),
haar lang bos hare vir die foto losgemaak
Foto: SA Genealogie

Uit die eerste ongeveer 600 mense wat die ZAR verlaat het, was daar teen September 1880 slegs 57 gesinne (270 persone), 2 160 beeste, 120 perde, 61 waens, 840 trekosse en 3 000 skape en bokke oor.

Die gesinne het hoofsaaklik bestaan uit: nege Van der Merwe-gesinne, ses Groblers, vyf Du Plessis, drie Albertse, drie Labuschagnes, drie Prinsloos, twee Du Toits, asook Steenekamp, Bothma, Roets, Swart, De Beer, Van den Berg, Opperman, Botha, Piek, Klopper, Holtzhausen, Kruger, Robberts, Smit en Van Wyk.

Die gesinne van Johannes Hendrik van der Merwe, Willem de Klerk, Z de Klerk en Hendrik van der Walt het nog verder noord getrek en op Mombolo gaan bly.


Hermanus Filippus Potgieter, sy vrou Maria Magdalena, ‘n nooi Coetzer, en gesin in Mombolo
Foto: SA Genealogie

Angola
'n Afvaardiging van nege trekkers het op 11 Augustus 1880 grond-onderhandelings met die Portugese goewerneur van Mocamedes, Sebastiao Nunes de Mata, aangeknoop. Daar is op 18 September 1880 'n ooreenkoms bereik waarvolgens die trekkers grond sou kry as hulle onderneem het om die Portugese owerheid en wette te eerbiedig

Dié ooreenkoms is op 28 Desember 1880 bekragtig en elke gesin het 200 hektaar by Sao Januario de Humpata, naby die dorpie Lubango op die waterryke hoogland van Angola, ontvang. Ná jare van rondswerf is die eerste nedersetting op 4 Januarie 1881 gestig.


'n Boerehuis in Angola
Foto: SA Genealogie

Vierde
Tussen 1891 en 1892 het ‘n klompie kleiner familie-trekke uit Transvaal vertrek en op die trekpad verenig in 'n vierde trek van 11 gesinne in 17 waens en 2 000 beeste, onder Willem Prinsloo se leiding.

Willem was die seun van die Voortrekker Georg Diederik Petrus Prinsloo, wat op 20 Oktober 1885 as President van die Republiek Upingtonia, gestig deur trekboere naby Grootfontein in Suidwes-Afrika, aangewys is. Hy het kort daarna aan kanker gesterf en die republiek het twee jaar later tot niet gegaan toe die boere terug is na Transvaal en Angola.


Trekkerboere in Mossamedes
Foto: SA Genealogie

Die Willem Prinsloo Landboumuseum op die ou Bronkhorstspruitpad is na Georg se kleinneef, Willem Wragtag, vernoem.

Die Prinsloo-trek wat teen 20 Desember 1892 in Humpata aangekom het, is gevolg deur gesinne van die Rustenburg-omgewing wat via die Ngami-meer na Angola getrek het.

In Junie 1892 het ongeveer 30 gesinslede van die Rustenburgse Kirsten-broers en hulle swaer PO Breedt per skip na Humpata vertrek.


Die Angola-Boere trek in 1928 terug van Angola na SWA oor die Kunenerivier by Swartbooisdrif
Bron: Private versameling, Mev EMME Maritz, ‘n nooi Van der Merwe

Vyfde
Die vyfde trek het begin toe sewe huisgesinne onder Koos Hamman van die distrik Bethal op
3 Desember 1892 vertrek het. Van hulle was oorlewendes van die rampspoedige tweede Dorslandtrek wat in 1878 na Transvaal teruggekeer het. Hulle het in November 1893 in Humpata aangekom.

Die sesde trek het teen die einde van 1892 begin toe mense uit Oos-Transvaal begin trek het. Trekkers uit Rustenburg het teen die einde van Mei 1893 by hulle aangesluit. Ongeveer 100 gesinne het


‘n Groep Dorslandtrekkers in Angola in 1912
Bron: Kaapse Argief AG 490

Transvaal in 1893 verlaat. ‘n Groep van 63 gesinne onder leiding van kommandant IM Lombard het met die bekende Dorsland-trekroete oor Ngami tot by Ohanzi getrek waar 'n tweede trek (28 waens onder PJ en HI Steyn) by hulle aangesluit het.

Teen dié tyd het sewe waens omgedraai en na Transvaal teruggekeer. Later het die trek weer in twee groepe verdeel. Sewentig gesinne is na Que, Bie, Cubal, Caconda en Mombolo in Angola en die res na Suidwes-Afrika.


Kol Artur de Paiva is met Jacomina Botha getroud
Foto: SA Genealogie

Laastes
Knap ná die Engelse Oorlog het ‘n aantal individue na Angola getrek, maar die heel laaste groeptrek het op 9 Mei 1905 vertrek toe 12 gesinne met 14 waens van Palapye in die Waterberg vertrek het.
Ná 1907 was daar geen groot trekke na Angola nie, waarskynlik oor die maatreëls wat waarnemende goewerneur-generaal Henrique Mitchell de Paiva Couceiro ingestel het om verdere groeptrekke te stop.

Tog het kleiner familiegroepies aangehou om by die Angola-Boere aan te sluit. Een groep het vir omtrent 12 jaar getrek voordat hulle Angola in 1924 bereik het.

Die groot aantal individue wat by die Afrikanergemeenskap in Angola aangesluit het is as die agtste Dorslandtrek bestempel.


‘n Angola-Boeretroue
Foto: SA Genealogie

Versuur
Oor die jare het die Angola-boere se verhouding met die Portugese owerheid begin versuur. Met hulle aankoms het die Portugese sekere reëls neergelê waarby die trekboere gehou het.

Met die Eerste Wêreldoorlog is hulle waens egter op die paaie voorgekeer, en selfs by hulle huise opgekommandeer om vragte ammunisie, voedsel en ander voorrade te vervoer. Hulle het die waens nie weer terug gekry nie.

Die groot droogte van 1913 tot 1915 het hongersnood meegebring en die Angolese regering het ‘n voorraadopname gemaak en alle reserwe voedsel wat in die Boere se huise was geneem.


Willem Jacobus Grobler, gebore op 20 September 1865 en oorlede in 1953 op Gobabis,
sy vrou Susara Johanna Janse van Vuuren en hulle dogtertjie
Foto: SA Genealogie

Dié regering het ook later begin eis dat Portugees en nie Afrikaans nie, op skool geleer moes word en dat daar ‘n Roomskatolieke Portugese onderwyser by elke sendingskool moet wees. Dié beleid het die Angola-boere dwars in die krop gesteek.

Daar word gesê dat dit juis oor godsdiens is wat hulle aanvanklik uit die ZAR getrek het. Dié trekke was die gevolg van ekonomiese, godsdienstige en politieke faktore, maar teenkanting teen die liberale regering van president Francois Burgers is as die belangrikste trekrede genoem.  

Die meeste trekkers was lidmate van die Gereformeerde Kerk, wat Hervormers of Doppers genoem is, en van die vernaamste besware teen die nuwe president was sy ‘dwaalleringe’ – die onderwyswet wat godsdiensonderrig in skoolure verbied het; die feit dat hy soms op Sondae gereis het, en danspartye en dinees bygewoon het.


Michael Wilhelm Prinsloo, bekend as Giel Prens van die Bronkhorstspruit-distrik, en sy familie. Hy is op 25 Februarie 1925 oorlede en sy graf is by Kalangunja Mombolo, Angola. Hy was getroud met Martha Catharina Du Preez wat ook op Mombolo begrawe is
Foto: SA Genealogie

Terugtrek
Ná bykans 50 jaar het die Angola-boere besluit om na die destydse Suidwes-Afrika te repatrieer. ‘n Trekkommissie het op 16 April 1928 in die geheim bymekaar gekom. Daarna het hulle op 8 Mei 1928 ‘n openbare vergadering gehou en die Boere moes dokumente onderteken dat hulle op eie besluit trek, en nie omdat die Portugese regering hulle enige onreg aangedoen het nie.

Ongeveer 373 gesinne, 1 922 mense, het die land verlaat en slegs 400 Afrikaners het daar agtergebly.


Cornelius Johannes Gerhardus Du Toit en gesin. Hy was getroud met Maria Margaretha, weduwee van die trekleier Lourens M du Plessis, en is in 1840 weer getroud met Gertruida MM Steenekamp
Foto: SA Genealogie

Dié trek was weereens ‘n traumatiese ervaring, omdat geen werknemers, troeteldiere en plaasdiere saamgeneem kon word nie. Alles wat hulle in 50 jaar op die plase opgebou het, is sonder vergoeding agtergelaat en die trekboere moes hulle met baie min materiële besittings in Suidwes-Afrika vestig.

Met die Dorsland Gedenkfees in Augustus word daar oorweeg om 'n Dorslandtrekkers Gilde te stig. Vir meer inligting besoek http://dorsland.org/fees of stuur ‘n e-pos aan Callie Opperman by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it..

Additional information